With Compliments

Attorneys for Property Transfers and Bond Registrations. We also obtain bonds for our clients at the best interest rate available. Contact us for Debt Collection, Family Law matters and general litigation.

62 Da Gama Street
Da Nova
MOSSEL BAY
6500
Tel: 044 690 3325
Fax: 044 690 3279
e-mail : mosseltown@mweb.co.za
Web site : www.diedericksinc.co.za



 
Stuur aan per e-pos

 
   

Koop die huis met meer vertroue! Jy is nie meer verantwoordelik vir die verkoper se munisipale skuld nie
 

Trou jy binnekort? Oorweeg die regsgevolge
 

Werkgewers: Die verslag ingevolge die Wet op Gelyke Indiensneming, die sperdatum en die risiko van ‘n boete van R1,5 miljoen
 

‘n Tragedie in die swembad en die skadevergoedingseis van R62 miljoen
 

Huiswerkers se Lone styg vanaf 1 Desember
 

Jou Desember Webwerwe: ‘n Keurversameling vir die Feesseisoen
 

 
 
Desember 2016


Koop die huis met meer vertroue! Jy is nie meer verantwoordelik vir die verkoper se munisipale skuld nie


ArticleImage

“Why should a municipality be entitled to visit the sins of a predecessor in title upon innocent third parties when there is no relationship or connection between that party and the debts in question?” (So vra die regter in die saak wat hierin bespreek word.)


Die onlangse uitspraak van die Hoë Hof in Pretoria het tot die redding gekom van eiendomskopers van wie voorheen verwag is om die vorige eienaar se agterstallige munisipale skulde te delg.

Wanneer jy ‘n eiendom koop, het jy ‘n munisipale uitklaringsertifikaat nodig om die eiendom in die aktekantoor oor te dra. Hierdie uitklaringsertifikaat word slegs deur die munisipaliteit uitgereik indien alle belasting, water en elektriese rekeninge vir die voorafgaande twee jaar voor oordrag, ten volle vereffen is.

Die probleem ontstaan wanneer die verkoper se skulde ouer as twee jaar is. In so ‘n geval kan die munisipaliteit nie die verkoper verplig om daardie historiese skulde te betaal, deur die transaksie terug te hou nie.  


Die koper is nie meer die maklike teiken nie

Tot en met hierdie uitspraak, was die koper die sagte teiken vir die munisipale skuldinvorderaars. Die munisipaliteit kon jou toevoer tot water en elektrisiteit afsny. In sommige gevalle is gedreig om die koper se eiendom in eksekusie te verkoop. Die koper moes opdok vir iemand anders se skulde – in hierdie spesifieke geval het die munisipaliteit R6,5 miljoen van die koper geëis. 

Gelukkig het die hof hierdie posisie nou ten gunste van die onskuldige koper opgeklaar. Die hof bevind dat ‘n nuwe of opvolgende eienaar nie sondermeer aanspreeklik kan wees vir die historiese munisipale skulde van die vorige eienaars of okkupeerders nie. Tensy die koper en die verkoper uitdruklik en skriftelik met mekaar ooreengekom het, sal sodanige optrede van die munisipaliteit ongrondwetlik wees. Die hof maak dan ‘n bevel en verklaar hierdie klousule wat die munisipaliteit magtig om teen die koper op te tree, ongrondwetlik. Hierdie verklaring en bevel sal in alle waarskynlikheid deur die Grondwetlike Hof bekragtig word. Alle ander howe in die land sal dan ook aan hierdie bevinding gebonde wees, wat beteken dat alle kopers voortaan hierdie beskerming sal geniet.





Trou jy binnekort? Oorweeg die regsgevolge


ArticleImage
Maak staat op die raad van die man wat twyfel of dit reg is: die man wat nie twyfel nie, het die saak maar van een kant af beskou. 
C.J. Langenhoven (Waardes en Waagmoed)


Met die bruilofseisoen in volle swang, moet jy sorg dat jy tydig regsadvies inwin oor die drie huweliksgoederebedelings wat in Suid-Afrika vir die partye beskikbaar is. 

Dit is belangrik om ‘n voorhuwelikse kontrak te sluit voordat jy trou, anders sal jy ingevolge ons reg outomaties in gemeenskap van goed getroud wees. Dit mag heel moontlik nie die beste keuse vir jou en jou huweliksmaat wees nie. Dit is moontlik om later gesamentlik jul huweliksgoederebedeling te verander nadat die huwelik reeds gesluit is. Dit behels egter ‘n gesamentlike hofaansoek in die Hoë Hof nadat julle ook aan al jul skuldeisers skriftelik kennis gegee het. Dit is moontlik, maar dit is nie ‘n vinnige of ‘n goedkoop opsie nie. En dit is in geheel onnodig as julle voor die huwelik die nodige erns en aandag aan jul sake gee. 


Die drie keuses

  1. Huwelik in gemeenskap van goedere:  Hierdie is die standaard bedeling wat op huwelike van toepassing sal wees indien jy nie ‘n huweliksvoorwaardekontrak sluit nie. Alles wat jy besit en skuld, asook alles wat jy gedurende jou huwelik bymekaar maak, beland in die een enkele gemeenskaplike boedel. Hier is slegs ‘n paar uitsonderings. Jou huweliksmaat sal skriftelik tot sekere transaksies moet toestem. Op datum van egskeiding of dood, sal jou gemeenskaplike boedel omtrent altyd gelykop tussen die huwelikspartye verdeel word, ongeag van wat elkeen van julle tot die huwelik bygedra het. Indien een van die gades in ‘n finansiële penarie beland, is dit die gemeenskaplike boedel wat aanspreeklik gehou sal word. Beide huweliksmaats word outomaties saam gesekwestreer en sal alles verloor ingeval van sekwestrasie.

  2. Huwelik buite gemeenskap van goedere, sonder die aanwasbedeling: Jou eie bates en jou eie laste, dit wat jy inbring in die huwelik en dit wat jy gedurende die huwelik opbou en bymekaar maak, bly joune en joune alleen. Jy kan na vrye wil daarmee handel. Jy sal glad nie aanspreeklik wees vir jou gade se afsonderlike skulde nie en dienooreenkomstig sal die sekwestrasie van jou gade se boedel ook nie jou boedel raak nie. Jy sal net jou bewyse van eienaarskap aan die Trustee van die gesekwestreerde boedel moet lewer en jou bates sal aan jou as die solvente huweliksmaat vrygestel word. Hierdie huweliksgoederebedeling mag dalk die regte keuse vir jou wees. Let egter daarop dat dit ‘n risiko inhou vir die huweliksmaat wat deur voltydse tuisteskepping en deur ondersteuning van die gesin tot die huwelik bygedra het; eerder as met uitsluitlike beroeps- en finansiële bydraes. Sonder ‘n eis vir aanwas kan so ‘n huweliksmaat sleg aan die kortste ent trek. 

  3. Huwelik buite gemeenskap van goedere, met insluiting van die aanwasbedeling: Soos met die vorige huweliksgoederebedeling, bly jou bates en jou laste joune en volledig onder jou eie beheer. Jou bates is ook beskerm teen jou huweliksmaat se skuldeisers. Die verskil is dat by datum van egskeiding of dood, word die sogenaamde aanwas of groei van julle afsonderlike boedels bereken. Jy en jou huweliksmaat deel dan gesamentlik in hierdie groei, met slegs enkele uitsonderings.
Hierdie is vandag ‘n billike en ook die mees gewilde huweliksgoederebedeling. Dit is egter nie noodwendig die beste keuse vir jou spesifieke omstandighede nie; gaan neem dus behoorlike advies. 

Dit laat beide van julle in die aanloop tot jul huwelik met ‘n paar belangrike besluite om te maak. Al drie die opsies hierbo het hul eie voordele en nadele. Hierdie uiteensetting is slegs ‘n algemene opsomming oor die onderwerp. Kry ‘n prokureur om ‘n gepaste Huweliksvoorwaardekontrak vir julle spesifieke situasie op te stel. Julle is dit aan mekaar as huweliksgenote verskuldig om ingeligte besluite hieroor te neem. Hierdie kontrak moet ook voor die huwelik deur die partye onderteken word en notarieël verly word. Dit is beslis nie ‘n proses wat julle op nommer 99 of selfs net ‘n paar dae voor die troue moet aanpak nie.





Werkgewers: Die verslag ingevolge die Wet op Gelyke Indiensneming, die sperdatum en die risiko van ‘n boete van R1,5 miljoen


ArticleImage
Aangewese werkgewers moet toesien dat hulle die voorgeskrewe verslae oor gelyke indiensneming betyds indien. Die boete vir eerste oortreders is R1,5 Miljoen of 2% van omset, watter bedrag ookal die grootste is. Die boetes vir herhalende oortreders spring sommer na R2,7 Miljoen of 10% van omset, watter bedrag ookal die grootste is.

Met die uitsondering van ‘n paar hoë-profiel gevalle, is hierdie wetgewing tot op hede nie konsekwent afgedwing nie. Dit het daartoe bygedra dat aangewese werkgewers dikwels nie aan hierdie voorskrifte voldoen nie. Die Minister van Arbeid het dit nou duidelik gemaak dat die wetgewing wel afgedwing gaan word. 
Indien jy dus die sperdatum van 3 Oktober 2016 gemis het, is dit nou die beste tyd om dit onmiddellik reg te stel.

Werkgewers het nog steeds geleentheid om die verslae oor gelyke indiensneming elektronies in te dien. Die sperdatum vir elektroniese indiening is Sondag 15 Januarie 2017

Vir meer besonderhede besoek die Departement se webblad getiteld “Employment Equity Online Reporting for 2016” te https://ee.labour.gov.za/dmiso/.


Moet jy aanmeld?

Werkgewers wat in enige een van die twee voorgeskrewe kategoriëe val, moet verslae indien:-
  • Alle werkgewers met 50 of meer werknemers in diens; of

  • Werkgewers met minder as 50 werknemers in diens, maar wat voldoen aan die toepaslike omsetsyfer, soos in hierdie tabel uiteengesit-
(Indien die tabel nie korrek vertoon nie, kyk gerus na die aanlynweergawe)

As jy hier ‘n verkeerde skuif maak, kan dit jou duur te staan kom. Indien jy enigsins hieroor twyfel, moet jy die nodige advies verkry. 





‘n Tragedie in die swembad en die skadevergoedingseis van R62 miljoen


ArticleImage
Dwight Eisenhower was van mening dat die dood van ‘n kind die grootste tragedie in die lewe was. 


‘n Onlangse uitspraak in die Hoë Hof beklemtoon weereens die persoonlike tragedie en ook die regsgevolge van die versuim om kinders teen die gevare van swembaddens te beskerm.


Die feite
  • Die betrokke eiendom het ‘n swembad gehad en die swembad  was met twee ingangshekke omhein. Dit het ook ‘n dam gehad vir koi-visse wat nie omhein of bedek was nie.

  • ‘n Kind van 2½ jaar oud het elke week saam met haar moeder ‘n selgroep-vergadering by die betrokke eiendom bygewoon.

  • Die swembad se hekke is deur twee afsonderlike knippe beskerm. Kinders kon die hekke dus nie self oopmaak nie. Ongelukkig is die hek op ten minste vyf geleenthede voor die tragedie oopgelaat. Die moeder van die kind het dit self aan die eienaar se vrou uitgewys, wat onderneem het om seker te maak dat die hek in die toekoms altyd toegehou sou word.

  • Op die betrokke dag was die moeder se aandag onverwags afgelei. Haar kind was vir ‘n kort periode van twee tot drie minute nie in haar sig nie.

  • Ongelukkig was dit genoeg tyd vir haar kind om in die swembad te val, waar hulle haar kort daarna drywend gevind het, met haar gesig onder die water. Hulle kon daarin slaag om haar by te bring, maar die kind het reeds ernstige breinskade opgedoen. 

  • Die ouers van die kind het die huiseienaar en sy vrou gedagvaar. Die vrou was ten tyde van die ongeluk die persoon in beheer van die eiendom. Die ouers het namens hul dogter en ook in hul persoonlike hoedanigheid die bedrag van R62 miljoen geëis. 

  • Die partye het teenstrydige weergawes en getuienis voor die hof geplaas. Die hof bevind dat die hek waarskynlik wel oopgelaat was. Of dit ‘n outomatiese sluitingsmeganisme bevat het, al dan nie, dit was onvoldoende om die hek toe te sluit.

Wie is aanspreeklik?

Gegewe die feite van die saak bevind die hof dat nalatigheid aan verskillende partye toegedeel kan word:  
  1. Die huiseienaar moes geweet het dat die swembad ooglopende gevare vir klein kinders inhou. Sy versuim om te verseker dat die hek die swembad behoorlik beskerm deur ‘n outomatiese sluitingsmeganisme of -slot te installeer, maak hom gedeeltelik aanspreeklik. 

  2. Die vrou van die huiseienaar was aanspreeklik omdat sy nie seker gemaak het dat die hek ten alle tye gesluit was nie, soos wat sy reeds voorheen onderneem het om te doen nie.  

  3. Die hof bevind dat die moeder van die kind bydraend nalatig was. Sy het immers haar dogtertjie sonder toesig gelaat, terwyl sy ten volle bewus was van die gevare wat die swembad vir ‘n klein kindjie sou inhou. 
Die huiseienaar en sy vrou is dus verantwoordelik vir alle skade wat die kind se ouers kan bewys. Die moeder se persoonlike eis sal met 30% verminder word om haar bydraende nalatigheid te weerspieël. Die werklike skade wat namens die kind bewys word, sal egter 100% betaalbaar wees.






Huiswerkers se Lone styg vanaf 1 Desember


ArticleImage
Vanjaar se nuwe minimum lone vir huiswerkers word in die tabel hieronder uiteengesit. 


Wie word hierdeur geraak? 
  • Alle huiswerkers in Suid-Afrika wat in ‘n private huishouding werksaam is.

  • Huiswerkers in diens van diensverskaffers wat huiswerkers beskikbaar stel.  

  • Onafhanklike kontrakteurs wat huiswerk doen.

  • ‘n Persoon wat by ‘n private woning vir vergoeding tuinmaak.

  • Mense wat na kinders, siek mense of bejaarde mense of mense met gestremdhede in ‘n private woning omsien. 

  • ‘n Persoon wat die mense van die huishouding rondry. 

Dit sluit egter die volgende mense uit:–
  • Huiswerkers wat op plase werksaam is.
     
  • Huiswerkers wie se aktiwiteite deur ‘n ander sektorale vasstelling of ooreenkoms van ‘n bedingingsraad gedek word, soos byvoorbeeld kontrakskoonmakers.

Is jy in Area A of Area B?

Area A sluit die meeste van die groot metropolitaanse gebiede in; Area B is al die ander gebiede. Kyk gerus na die volle lys op die Departement van Arbeid se webwerf.

 
(Indien die tabel nie korrek vertoon nie, kyk gerus na die aanlynweergawe)





Jou Desember Webwerwe: ‘n Keurversameling vir die Feesseisoen


ArticleImage
Kom ons neem afskeid van die jaar 2016 en besoek ‘n paar webwerwe wat ons in die vakansiestemming sal kry. Of jy nou ‘n entrepreneur of ‘n werknemer is, ‘n vooraanstaande nyweraar of opkomende bestuurder, ‘n kantoorwerker of iemand wat van die huis af werksaam is; dit is jou geleentheid om te ontspan en die tyd saam met jou geliefdes te geniet!


Hoe om jou vakansie te geniet 

Na ‘n lang jaar is dit belangrik dat jy jou batterye herlaai. Hopelik met ‘n goeie vakansie. Kyk gerus na die interessante artikel van die Telegraph ‘The science behind having a happy family holiday” op hul webwerf.


Daardie perfekte geskenk

Sukkel jy om die perfekte geskenk vir ‘n baie spesiale kliënt of familielid te vind? Indien jy nie te onhandig is nie, kan jy een van die Doen dit Self projekte aanpak in “Give the Perfect Handmade Gift with These DIY Projects” op  LifeHacker


Is daardie hotelresensie dalk net te goed om waar te wees?

Voordat jy ‘n hotelbespreking maak op sterkte van ‘n lofwaardige vyfster aanlynresensie, maak seker dat die resensie darem eg is. Hiervoor kan jy Review Skeptic gebruikDit is geskoei op navorsing van die Cornell Universiteit wat outonome rekenaarverwerking gebruik om valse hotelresensies te identifiseer. Hulle spog met akkuraatheid van byna 90%.


Jou hond se slaaptydstorie oor Nuwejaar 

In dele van ons land word vuurwerke op Nuwejaarsaande geskiet as deel van die feesvieringe. Indien jou honde bang is, kan jy altyd Daily Record se slaaptydstorie op Audioboek speel. Die gepaste storie is “Calm canine nerves this Bonfire Night with bedtime story for dogs” op hul webblad. Jare se navorsing oor hondegedrag, bewese wenke oor dieresielkunde, kommunikasie-seine en sogenaamde bio-akoestiek word hier ingespan. Dit mag heel moontlik ook jou eie gemoedstoestand kalmeer. Jy kan ook kyk of dit net so goed vir die kat gaan werk. 


Daardie vakansieherinneringe moet vir die nageslag opgeneem word! Wenke vir goeie selfoon video’s

Gelukkige gesinstye kan vir ewig vasgelê word met ‘n tuisfilm wat met jou slimfoon opgeneem word. Kyk gerus na “Make Great Videos with Your Phone” op lifewire.com. Rond die opname af met ‘n video redigeringstoepassing – vind die beste toepassings by “10 best video editor Apps for Android” hier  of “5 of the nicest video editing Apps for iOS” hier


Uit die HAT: 

“promenadekonsert” s.nw – konsert in ‘n park of op ‘n plein waar die toehoorders kan rondbeweeg. 




ArticleImage



Ons wens u ‘n rustige feesseisoen en net die beste in 2017 toe!





Kennisgewing: Kopiereg in hierdie publikasie en die inhoud daarvan vestig in DotNews - Sien Kopiereg kennisgewing hieronder.

 
 
 
  Uitsluiting

Die inligting hierin vervat is van ‘n algemene aard en moet nie as professionele advies gebruik word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u professionele adviseur vir spesifieke en toegepaste advies.